Krugerwildtuin is nie gedenktuin nie

Talle houtkissies met menslike oorskot wat onwettig in die Krugerwildtuin gelaat is, is verwyder.

Dit kom nadat besoekers die laaste jare toenemend onwettige gedenkplate, -stene en as van afgestorwe geliefdes oral in die wildtuin gelaat het.

Die wildtuin was altyd bereid om in te stem dat mense hul geliefdes se as strooi, het William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin gesê.

Volgens dr. Freek Venter, hoof van natuurbewaring, het die probleem ontstaan by mense wat nie toestemming gevra het nie.

Daar is egter nou ‘n toename in die onwettige aanbring van gedenkstene, veral by bekende uitklimplekke in die wildtuin naby Skukuza en die uitkykpunt op die H1-5 naby die Olifantskamp.

Die wildtuin het al die onwettige gedenkplate en houers met oorskot verwyder. Dit word in veilige bewaring gehou.