Koebaai vir Hello Doctor

Dr. Michael Mol is verbysterd en teleurgesteld nadat die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) die publiek en gesondheidswerkers gewaarsku het om nié van die “Hello Doctor-diens” gebruik te maak nie.

Dr. Michael Mol, die bekende TV-persoonlikheid en uitvoerende hoof van die “Hello Doctor- mediese diens”, het gesê hulle is veral verbaas omdat die RGB se verklaring blykbaar gegrond is op ’n misverstand oor die mediese diens wat  gelewer word.

Die RGB  het by monde van hulle woordvoerder Bertha Peters-Scheepers, gesê sodanige dienste kom neer op ’n potensiële oortreding van die regte van pasiënte, soos ’n regstreekse dokter-pasiënt-verhouding, die vertroulikheid van pasiënte se mediese geskiedenis en ingeligte instemming.

Sy het verder verduidelik dat as jy deur ’n app of oor die foon of per SMS met ’n dokter praat, dan bestaan daar nie ’n regstreekse dokter-pasiënt-verhouding nie omdat jy waarskynlik elke keer met ’n ander dokter sal praat.

Die RGB het vroeër ’n sakeplan van “Hello Doctor” wat aan hulle voorgelê is, afgekeur.

“Hello Doctor”, wat grootliks deur Metropolitan Health besit word, het in ’n verklaring gesê dit bied “baanbreker- voorkomende gesondheidsorg deur bekostigbare en vertroulike toegang tot dokters aan alle Suid-Afrikaners met selfone te verskaf” en dat hulle in drie jaar nog geen verbruiker se klagte ontvang het nie.