Kindersiekte tref Engeland

’n Siektetoestand wat algemeen was in die Victoriaanse tydperk in Brittanje, is nou weer waargeneem in dele van Brittanje.

Ragitis is ’n siektetoestand wat by kinders gevind word en wat in die Victoriaanse tydperk ’n epidemie in die land was.

Die kinders se bene is krom, en rugwerwels is gebuig, terwyl ander dele van die kinders se beenstruktuur dikwels gebuig is, of gewrigte swel.

Die toestand word veroorsaak deur ’n ernstige tekort aan vitamiene D, wat verkry word deur blootstelling aan direkte sonlig.

Vis, suiwel en eiers bevat ook vitamien D, maar is dikwels nie genoeg in ’n land soos Brittanje waar sonlig maar skaars is nie. Dit word verder vererger deurdat kinders nie meer buite rondspeel in die son nie, en eerder binnenshuis besig bly met hoë tegnologie speletjies op rekenaars.

Die probleem kan vinnig opgelos word deur kinders tot die ouderdom van sewe jaar ’n vitamien D aanvulling te gee.