Kerke kam ANC oor lastering

Dr. Chris van Wyk, Oos-Kaapse moderator van die NG Kerk, het in ’n verklaring gesê dat die vergelyking deur Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, van die ANC-alliansie met die Heilige Drie-eenheid, is Godslasterlik.

Kort daarna het dr. Isak Burger, van die Apostoliese Geloofsending, gesê Mantashe “het daarin geslaag om die allerlaagste vlak van godsdienstige misbruik ter wille van partypolitieke voordeel te bereik”.

Dr. Van Wyk sê die uitspraak van Mantashe staan in die teken van Openbaring 12 en 13 se beskrywing van politieke en ekonomiese teenstand teen God.

“Daar word die bose driemanskap – die draak (Satan), die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (valse profeet) – se poging om hulle as die Heilige Drie-eenheid – Vader, Seun en Heilige Gees – voor te doen, skerp afgewys.”

Dr. Burger het gesê dat vorige uitlatings oor die Bybel en Christenskap erg genoeg was, maar dat die jongste uitspraak “gevaarlike rooi ligte laat flikker”.

Die Gereformeerde Kerke se deputate-owerheid, het skerp gereageer en Mantashe se woorde beskryf as “ ’n vergryp aan die heiligheid van God en ’n skandalige misbruik van godsdiens vir politieke gewin”.

Selfs die Verenigende Gereformeerde Kerk het gereageer en gevra of lidmate nog vir ’n party kan stem wat op so ’n wyse omgaan met hulle geloof.