Katgeveg in Numsa

Pleks van eenheid in Numsa se  leierskorps oor planne om uit Cosatu weg te breek, het ‘n katgeveg dit aan skerwe laat spat toe die vakbond se president, Cedric Gina, uit die bloute bedank het.

Gina se bedanking volg op onthullings wat hy die naweek aan Sowetan gedoen het dat ­Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris, kort voor die ANC se Mangaung-kongres probeer het om pres. Jacob Zuma te oorreed om Zwelinzima Vavi tot adjunk-president van die ANC te laat verkies.

Nou is die kat behoorlik in die hoenderhok gegooi want Gina het Jim daarvan beskuldig dat hy Numsa, Cosatu se grootste vakbond, uit Cosatu wil laat wegbreek uit verbittering omdat Zuma sy voorstel van die hand gewys het.

Die merkwaardige van die onthulling is dat Vavi al verskeie aanbiedinge van die hand gewys het om hoë poste in die ANC te aanvaar en selfs in die kabinet te dien.

Vavi het nog altyd volgehou dat hy nooit in die regering sal dien nie omdat die belangebotsing met werkers te groot is. 

Foto –  Cedric Gina