Kalmoes / Acorus calamus – Bybelse kruie..

Alhoewel kalmoes soos palmiete in die vlei vertoon, is dit sowaar ’n krui wat in die Bybelse tye baie gebruik is.

In daardie tyd is die blare van die plant gebruik as medikasie en vir die aroma daarvan. Die risoom was gedroog en dan fyngemaal soos ’n poeier en gebruik in die plek van gemmer, kaneel en neutmuskaat en die ekstrak van die risoom was gebruik vir die geur van pyptabak.

Die rietagtige blare is baie aromaties en die olies verkry hieruit, was gebruik in die geur van parfuum. In Europa is Kalmoes ook gebruik om wyn te maak en die wortels is een van die bestanddele wat in wildeals te vind is. Dit is ook gebruik in bitterwyn. Die wortel van die plant was ook in sirkels gesny en dan gebruik om armbande en krale te maak en die Oosterse lande se babas het hierdie krale gedra vir die eerste paar maande na geboorte. Die Indiërs het hierdie armband “vasambu bracelet” genoem, wat die simbool vir “nuutgebore baba” is.

Kalmoes produkte is in 1968 verban deur die VSA se kos en medisyne administrasie, want hulle het bevind dat die produkte waarin van die olies van die kalmoes gebruik word, verslawend is. Dit was op diere getoets en is bevind dat die diere almal kankergewasse ontwikkel het.

Hul kon egter nie bewys dat dit dieselfde effek op die menslike liggaam sal hê nie, maar het tog teen die gebruik daarvan gewaarsku en die uiteindelik verban.

Kalmoes is ’n lang meerjarige, eensaadlobbige moerasplant van die Acoraceae familie. Hierdie plant is inheems aan Egipte maar dit was alreeds bekend 1300 VC.

Die ou Egiptenare het Kalmoes gebruik om maagongesteldhede te behandel. Die Europeërs het hierdie plant verwar met die Romeine en Griekse Iris pseudacorus. Die plant was bekendgestel in Brittanje in die 16de eeu.

Die plant se blare is groen en lank met sterk stingels. Kalmoes se risoom met die harige poeier is wit/roomkleurig. Hierdie plant groei baie goed naby riviere en selfs in die visdammetjie.

Geniet u tuin en plant sommer baie Afrikanertjies in al die kleure hierdie maand.

Dis ook tyd om kruie te saai soos basiliekruid, pietersielie, en vele meer. Ons tuine vertoon darem so pragtig op die oomblik met die groen grasperke en skadubome.

Tuingroete tot volgende keer