Jy sal die punt mis!

Dit is seker altyd ’n goeie ding om oopkop te wees oor die realiteite van die Vreeslike Irriterende Gagga Siekte. Daarom dat die geagte kabinet mense aanmoedig om eerder besny te word om oordrag te verminder.

Hulle het mos al lank allerhande ander slagspreuke wat verskillende raad gee. Ek kan nie alles onthou nie, maar dit is goed soos: “Condomise before you sodomise” of “Save lives, test your wives” of “give your immune system power, take a nice long shower”.

Hulle doen dit darem in Afrikaans ook sodat die Wes-Kapenaars ook maatreëls kan volg. “Onthou djou kondooms voor djy lol met anner ooms”, “Vermy VIGS se houe, lat toets al djou vroue” en “Vir immuunstelsel krag, stort elke dag!” Ek is nou ie seker of ek dit alles reghet nie, maar dit klink so iets. Met die nuwe besnydenis benadering kan hulle byvoeg “For protection against infection,cut off a section!” of “As djy wil VIGS vermy, moet djy ‘n stuk afsny!”

Daar is egter steeds ‘n paar probleme. Almal weet nie eers wat VIGS is nie! Party lees ‘n pamflet wat sê dat as jy veelvuldige seksuele maats het is jou kans groter om VIGS te kry, en dan nooi hulle al wat ‘n man is met ‘n groot afwagting dat een van hulle met ‘n mandjie vye daar gaan opdaag! Lees hulle die Ingelse pamflet reken hulle dat die AIDS wat hulle gaan kry gratis medical-AIDS is.

Verder wil dit lyk of die kabinet nou begin fokus op goed soos mediese navorsing terwyl die goeie ou Afrika-tradisies soos Afrika-aartappel, knoffel en suurlemoensap nou sommer geheel en al verwaarloos word en dit net omdat dit lyk asof Manto haar VIGS navorsing met haar gevulde aartappelgereg-resep omgeruil het!

Die ander probleem en die grootste een is sekerlik dat alles aangespreek word behalwe om die logiese en beste oplossing te propageer van om doodeenvoudig die huweliksdaad te hou waar dit hoort, binne die huwelik! (van een man met EEN vrou)

Dit is ‘n meer natuurlike oplossing want in die natuur kry mens nie soogdiere wat vervel nie! Ek besef hierdie saak raak ‘n sensitiewe punt aan en is seker ‘n ongemaklike saak om aan te sny, maar dit is nodig om daaroor te praat! VIGS is ‘n realiteit en om jou te laat besny sonder om eerder ‘n kuis lewe te lei en te veg vir ‘n monogame huwelik as norm, sal mens die punt mis!

Tot volgende slag

Die Sweep