Jy kan inset lewer, maar dis als geheim

Suid-Afrikaners sal na verwagting vroeg in 2014 hul insette oor die omstrede Wet op Nasionale Sleutelpunte kan lewer, maar die lys van nasionale sleutelpunte is ’n geheim.

Die Wet op Nasionale Sleutelpunte is tot onlangs gebruik om besonderhede oor Nkandla, pres. Jacob Zuma se private woning wat teen meer as R208 miljoen opgeknap is, geheim te hou.

Dié veiligheidsmaatreëls het koeëlvaste vensters, ’n hysbak, helikopterlandingsplekke, ’n sokkerveld vir Zuma se lyfwagte, snoepwinkel en deurloop vir vee ingesluit.

Nathi Mthethwa, minister van Polisie, het vroeër gesê die hersiening van dié wetgewing sal einde vandeesmaand afgehandel wees.

Hoewel ’n lys van alle nasionale sleutelpunte deel sal wees wanneer dié proses in die gesamentlike staande komitee oor intelligensie ter tafel gelê word, beteken dit egter nie die publiek sal toegang daartoe hê nie omdat dié komitee altyd agter geslote deure vergader en sy gesprekke vertroulik is.

Talle koerante, het verlede week foto’s van Nkandla gepubliseer nadat Nathi Mthethwa, minister van Polisie, en dr. Siyabonga Cwele, minister van Staatsveiligheid, gedreig het om mediagroepe te vervolg as hulle dit doen, maar die regering moes hulle woorde sluk en sê dit was net ‘n klein misverstandjie – hulle het bedoel foto’s wat veiligheidsmaatreëls aandui, mag nie gepubliseer word nie.