Jou slimfoon is die klikbek

Het jy al gewonder waar kom instansies, bemarkers en skurke, aan gegewens rondom jou persoonlike lewe en dit wat jy as private inligting besit?

Jou slimfoon is waarskynlik die klikbek!

Wetenskaplike navorsing het bewys dat die slimfoon binne ’n bestek van 24 uur, die data van jou persoonlike inligting tot 350,000 keer aan instansies soos advertensie agentskappe stuur.

Die slimfoon kan ook op ’n daaglikse basis met soveel as 350 bedieners wêreldwyd kontak maak.

Die navorsingspan van die Britse “Channel 4-nuusdiens” in samewerking met die “MWR Info Security” het die opspraakwekkende bevinding gemaak.

Uit die navorsing is bevind hoe ’n slimfoon sy eienaar kan blootstel, of “verklik” deur persoonlike inligting te versend na onbekende bestemmings.

Inligting wat versprei kan word is ondermeer die naamlys van e-pos adresse, jou woonadres of waar jy jou bevind, en dit dan aan kriminele vrystel wat later op jou en jou eiendom kan toesak.

“Channel 4 News” het ’n fiktiewe persoon met besonderhede geskep op ’n slimfoon, en die data ingevoer soos adres, sosiale media profiel, korrespondensie en ander persoonlike gegewens. Later is vasgestel dat die besonderhede outomaties, sowat 300,000 keer uitgestuur word.

“Wat ons vasgestel het, is ongelooflik,” het ’n woordvoerder gesê.

“Telkens wanneer ons aanlyn gaan, los ons ’n digitale spoor wat inligting oor die webwerwe wat ons besoek het versprei, en alles gebeur outomaties.

Hulle het vasgestel dat dit vir die gewone gebruiker bykans onmoontlik om sy eie digitale voetspoor te monitor.

Slimfone is altyd aangeskakel, altyd met die internet verbind, en derhalwe word inligting deurlopend en outomaties die wereld ingestuur.

Dit is bevind dat ’n slimfoon wat “luier”, steeds die inligting versprei. Mense besef nie hoe hulle inligting regoor die wereld versend word nie. Slegs ’n afgeskakelde slimfoon “verklik” nie jou besonderhede nie!