Jong 11-jarige sing soos ‘n engel

Sy mag net 11 jaar oud wees, maar in sommige kringe staan Lara Badenhorst bekend as die meisie met die engelstem.

Die jong meisie stel eersdaags haar debuut laserplaat, “The Beginning”, vry.

In 2011 het sy tydens haar optrede by die Vrystaatse Vroue Landbou-unie se kongres in Bloemfontein, vroue aan die huil gehad met haar vertolking van Josh Groban se “You raise me up”.

Daarna het sy nie stilgesit nie.

Uitnodigings na verskeie groot geleenthede het gevolg, oa. Volksblad se Kerssangaand in 2011 saam met die bekende kunstenaars Nicholis Louw, Elizma Theron en George Longane, asook haar optrede dieselfde jaar in November op die gradeplegtigheid van die mediese fakulteit van die Universiteit van die Vrystaat.

Sedertdien skuur sy skouers met ander bekendes soos in 2012  tydens ’n optrede op die Bloemskou waar sy net voor Romanz in die hoofarena opgetree het.

Sy het ook in 2012 ook saam met die gewilde Paul du Toit (Malan van Binneland-faam) by die GWK-kongres in Kimberley opgetree en in 2013 saam met Michelle Veenemans in Pretoria ’n verhoog gedeel.

Lara ontvang tans sangopleiding in Pretoria by Michelle Veenemans, dogter van die Suid-Afrikaanse sopraan, Barbara Veenemans, en niggie van wyle Leonore Veenemans.