Hidrobreking – buurland gee groenlig

In Suid-Afrika word die moontlikheid oor hidrobreking in die Karoo sterk teengestaan deur kenners en bewaringsbewustes, weens die negatiewe inpak wat dit op die omgewing kan uitoefen.

In Botswana is dit egter heel anders gesteld. Konsessies vir hidrobreking en die ontginning van metaangas is reeds toegeken.

Ontginning word glo toegelaat in die Sentrale Kalahari-natuurreservaat, asook in die Chobe-nasionale park en in die Nxaipan-nasionale park.

Die berigte wat ontvang is, dui daarop dat die konsessies toegestaan is aan maatskappye in Suid Afrika.

Die inligting het bekend geword nadat ’n span wat rolprente vervaardig, opgemerk het dat daar in die Sentrale Kalahari-natuurreservaat ’n aantal bore is wat vir prospekteerwerk gebruik word.

Blykbaar is die San bevolking, wat woon in die natuurreservaat, onbewus van die prospekteerdery, maar ’n woordvoerder van die Botswana regering sê daar is nie hidrobreking in die land nie, maar prospekteer regte is wel toegeken.

Prof. Rob Scholes van die WNNR sê almal in die land kyk na die ontginning van skaliegas in die Karoo, maar intussen ontgin maatskappye regoor Suid-Afrika metaangas uit steenkoollae, wat veroorsaak dat dit op ’n nasionale ramp afstuur.