Het Basson etiese reëls oortree?

Die regspan van die Raad op Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (RGSA) het gesteier onder moeilike vrae in die tugverhoor van dr. Wouter Basson.

Oud-regter-president Frikkie Eloff wou van adv. Salie Joubert, wat namens die RGSA optree, weet wat die paneel daarvan moet dink dat die RGSA tot dusver in die tugverhoor nog geen melding gemaak het van ’n spesifieke etiese kode, reël of regulasie wat Basson oortree het nie.

Die regime probeer op alle maniere om dr. Basson wat destyds aan die hoof van die apartheidsbewind se chemiese en biologiese wapenprogram, Projek Coast was, by te kom.

Die mees onlangse is dat hy deur die RGSA daarvan beskuldig word dat hy as dokter verskeie aanvaarde etiese gedragskodes oortree het deur traangas vir oorlogvoering en dwelmmiddels vir ontvoerings te ontwikkel wat tot mense se leed eerder as hul genesing gelei het.

Eloff het dit aan Joubert gestel dat hoewel daar na verskeie internasionale etiese gedragskodes verwys word, geen melding gemaak is van ’n reël wat direk oortree is nie. Volgens Joubert is dit nie relevant of ‘n spesifieke reël oortree is nie.