Gupta-ANC projek vorder

Die Gupta-familie se sogenaamde super-luukse “suiwelplaas” in Vrede distrik, in die Oos-Vrystaat, wat belastingbetalers miljoene Rand gaan kos, is nou in aanbou, en gaan waarskynlik 400 Holstein koeie huisves.

Die koeie gaan ook elk hul eie “slaapkamer” kry, en die multi-miljoen projek sal glo  na verwagting binne etlike maande voltooi word..

Die projek word in samewerking met die Vrystaatse regering aangepak, en gaan die belastingbetalers miljoene Rand uit die sak jaag.

Die projek, wat na bewering deur  ’n Amerikaner ontwerp is, behels ondermeer dat die koeie uit ’n voer stoor van kos voorsien word in die “slaapkamers”.

Benewens die koeie se kamers, word daar ook kamers vir die kalwers opgerig, en agt wooneenhede vir die werkers.

Waarnemers meen dat die uitlating van president Zuma oor korrupsie net wenkbroue laat lig as daar gekyk word na die “Gupta-Regering se melkkoei projek”.

Ingeligte bronne is van mening dat die hele projek die belastingbetaler uiteindelik sowat R250 miljoen sal kos.  

’n Buitelandse belegger het glo R200 miljoen vir ’n verwerkingsaanleg vir melk bewillig, volgens inligting wat vrygestel is deur die Vrystaatse Landboudepartement.

Die Vryburger het geruime tyd gelede berig dat die regering in die Vrystaat berigte wou ontken dat die Gupta’s by die projek betrokke is.

Gary Naidoo, ’n woordvoerder van die Gupta-familie, het per geleentheid erken dat Linkway Projects ’n maatskappy van die Guptas is.

Benewens die Gupta’s is die onderneming Estina en die Indiese maatskappy Paras glo ook by die projek betrokke.