GHA gedigtebundel vrygestel

Die GHA het tydens ’n glansgeleentheid hul nuwe gedigte-bundel vrygestel wat ook opgedra is aan die Pretorius familie.

Op die wyse wil die GHA graag erkenning gee aan die Boerseun en sy ouers.

Stemme uit die Suiderland VIII is die negende bundel gedigte wat die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans uitgee.

Elke jaar sedert 2004 neem tientalle digters deel aan die GHA gedigtekompetisie en word ‘n keur van hulle gedigte in die bundel geplaas.

Die ope kategorie het vanjaar tien afdelings waarin deelgeneem kon word.

Die studente en skoliere se kategorië bestaan slegs uit een afdeling, maar daar was drie onderwerpe om van te kies.

Nege-en-sestig digters het vanjaar aan die ope kategorie deelgeneem, ses in die studente kategorie, 31 in die hoërskoolkategorie en sewentien in die laerskoolkategorie.

Die totale prysgeld wat digters vanjaar kon wen was R27,500 geborg deur verskeie individue en instellings en word elders in dié bundel gepubliseer.

Met die bundel gedigte, poog die GHA om die skoonheid van die Afrikanervolk aan die wêreld te toon.

Vanjaar vier ons die 175ste herdenking van die Groot Trek toe sowat 17 000 Afrikaners tussen 1835 en 1838 die Kaap verlaat en die binneland ingetrek het.

In al vier kategorieë van vanjaar se gedigtekompetisie, is digters gevra om gedigte te skryf oor die Groot Trek. 

Hilde Pretorius het in een van haar wengedigte “Die groter trek” die Groot Trek pragtig beskryf, maar ook ons voortdurende trek met nuwe uitvindsels en nuwe uitdagings  uitgebeeld.