Gautreinramp

As die Gautrein maar soveel passasiers gehad het as die soustrein was daar nou nie soveel konsternasie nie! Hierdie projekkie is Gau-gau besig om in ‘n groot verleëntheid te ontwikkel aangesien hulle 110 000 passasiers per dag moet ontvoer om gelyk te breek, terwyl 59 000 van hulle spoorloos verdwyn het!

Die redes vir die min passasiers is onduidelik. Daar is so min dinge wat mens kan ontmoedig om die ding te ry! Dis eintlik net die belaglike prys daarvan! O, en die busdiens wat gereeld staak. Buiten vir dit is dit net nog die onopgeleide personeel (untrained).

Die enigste ander saak is die feit dat die bestuurder van die trein geen diepteskatting het nie omdat hy vir etlike jare met sy neus teen sy ma se tiende rugwerwel vasgetrek was. O, ja, dan nog net die feit dat openbare vervoer van e-tjol vrygestel word en dit dus baie makliker is om ‘n ambulans te kaap, die toerusting te verkoop en die dop, sirene en al, te gebruik vir ‘n taxi!

Goed, miskien is daar enkele dingetjies wat pla, maar Errol Braithwaite is oortuig dit sal hulle nie ontspoor nie. Hy reken dit is heeltemal normaal om ‘n verlies te ly van meer as R1,5 miljard aangesien die belastingbetaler via die kompartement van vervoer van die soustrein daarvoor instaan. 

Die bedoeling is nie om wins te maak nie, maar om die samelewing behoorlik te laat funksioneer, sê hy en ek ruik deur my rekenaarskerm wat hy praat! Die stank oorweldig my en ek moet stukkies wortel met ‘n tandestokkie tussen die letters van my sleutelbord uitkrap. Hoe presies funksioneer die samelewing beter? Leef hy in dieselfde samelewing as ek. Dis geen samelewing nie! Sommige leef en ander oorleef!

Errol moet ophou om soveel zolle van daardie pappagaaislaaitjies tErrol. Dis ook nie gesond om jou kouse te rook nie! Ek het nie rek gehad nie, maar soos ek verstaan is daar ‘n in-kant en ‘n uit-kant en as die in-kant 40% is van die uit-kant beteken dit jy sien jou agterkant!

Praat van ‘n treinramp!

Tot volgende slag

Die Sweep