Flink optrede voorkom tragedie

‘n Moontlike gesinstragedie is gelukkig afgeweer danksy die flink en dapper optrede van verskeie mense na ‘n swerm bye op die Badenhorstgesin toegesak het. 

Barries Badenhorst is Saterdag meer as 200 keer getakel terwyl hy bo-oor Bianca (3) gaan lê het om haar te beskerm en toe met ’n kop vol bye van haar weggehardloop het om die angels van sy dogtertjie weg te hou.

Badenhorst het Saterdag omstreeks 12:00 met sy bakkie ’n stopteken in die Mooibank-omgewing buite Potchefstroom genader toe hy ’n hoewewerker daar sien lê, toegepak deur bye.

Bianca het voor in die bakkie gesit en Damian (10) agterop die bak. Damian het skielik geskree die bye steek hom. Volgens hom het hy net ‘n swart wolk gesien aankom. ’n Hoewe-inwoner het Damian opgelaai, na sy huis geneem en die angels afgekrap.

Badenhorst het intussen verskeie kere van sy bakkie gehardloop en in ’n dam daar naby gaan spring. ‘n Veiligheidswag van CSS Security, Corrie Human, wat toevallig in die omgewing gewerk het, het dadelik stilgehou, die meisie uit die bakkie geruk en die vensters oopgedraai en begin ry om van die bye ontslae te raak.

Human is sowat 25 keer deur bye gesteek.

Intussen het die ambulans opgedaag en is Badenhorst en die twee hoewewerkers in die hospitaal behandel. Die kinders was net ‘n paar keer gesteek, maar Badenhorst het meer as 200 angels in hom gehad.