Engelse boer bou huis vir minder as R2,000

‘n Engelse boer het ‘n sprokieshuis gebou vir minder as R2,000 op die resep waarop ons voorgeslag hulle hartbeeshuisies gebou het.

Michael Buck, ‘n kunsonderwyser wat op ‘n kleinhoewe naby Oxfordshire bly, het slegs van natuurlike materiale gebruik gemaak toe hy die huis in sy tuin gebou het.

Die rede waarom hy dit gedoen het was omdat hy die gedagte dat jy vir 20 jaar moet afbetaal aan ‘n huis wou uitdaag. Hy verhuur die huis aan ‘n werker op die buurplaas wat hom met vars melk en room "betaal."

Die huis lyk soos iets ‘n uit ‘n kindersprokie. Dit het Michael 8 maande geneem om die huis te bou. Die tegniek wat hy gebruik het is die outydse manier om strooi, klei, sand, water en grond te meng.

Hy het homself geleer en het selfs die mure sonder die gebruik van kraggereedskap gevorm en gebou.

Hy het eiehandig die eenvoudige houtraam vir die dak gebou en dit self gedek met gras van sy kleinhoewe. Die bykans 92 m² huis se vloerplanke het hy van ‘n ou stukkende wa gekry en gerestoureer. Die windskerm van ‘n ou vragmotor het die vensters voorsien.

Ten spyte van die feit dat daar nie sentrale verhitting is nie, is die plekkie gesellig en warm. Die strooimure en grasdak sorg dat die huis goed geïsoleer is en die plafon is met skaapwol gevul wat die plek verder warm hou.

Hoewel daar nie elektrisiteit is nie, is daar is ‘n heerlike houtstoof wat strategies onder die slaapvertrek is, wat die plek verder warm hou. Kerse en lanterns word verder gebruik.

Die watervoorsiening is gratis en is herlei van ‘n fontein wat by ‘n pyp uitborrel, terwyl die natuurlike "yskas" ‘n vlak dammetjie is wat met pietersielie toegerank is.

Die toilet is die bekende plaastoilette buite en die badkamer bestaan uit ‘n groot sink bad wat na willekeur verskuif kan word.

Michael sê ‘n huis hoef nie ‘n fortuin te kos nie, bou dit net self. Hy sê as die huis in stand gehou word, sal dit bly staan. As dit verwaarloos word, sal dit inmekaar stort.

Michael wat in ‘n konvensionele huis saam met sy vrou Sheila bly, sê hy wou bewys dat jy nie jou lewe lank aan die terugbetaling van ‘n verband hoef te swoeg nie. Volgens hom kan jy dan nie jou huis geniet nie.

Aanvanklik wou hy die huis gebou het sonder om geld uit te gee, maar het die koste en hoeveelheid van die strooi benodig onderskat. Hy moes ook spykers aankoop. Bure en vriende het gehelp met die projek en hulle name is op die mure geskryf, saam met die van die drie koeie, Marigold, Crystal en Mist wie se mis gebruik is om die pleister te maak.