Ekonomiese groei laer as verwag

Gedurende die eerste helfte van die jaar het Suid-Afrika se ekonomie gestruikel onder stakings en arbeidsonrus in die mynsektor. Die derde kwartaal, wat die ekonomiese groei agterstand vir die jaar moes laat inhaal kon dit toe nie vermag nie. Die derde kwartaal was gekenmerk deur stakings in die vervaardigingsektor.

Daar word steeds gehoop dat S.A. vir die jaar by ‘n beskeie 2% groei sal uitkom, maar aan die einde van die derde kwartaal lyk die moontlikheid al hoe skaler. Die ekonomiese groei vir die derde kwartaal was ‘n skamele 0.7%, teenoor die verwagte 1.2%.

Die swak groei was meegebring deur ‘n inkrimping van 6.6% in die vervaardigingsbedryf weens stakings, wat veral ook in die motorbedryf plaas gevind het. Die vervaardigingsektor dra 15% by tot die land se Bruto Binnelandse Produk (BBP).

Die mynsektor kon gedeeltelik vergoed vir die afname in die vervaardigingsektor deurdat dit tot ‘n redelike mate herstel het.

Daar word nou staat gemaak op beter ekonomiese groei in die vierde kwartaal. Om naby die reeds afgeskaalde oogmerk van 2% BBP groei vir die jaar uit te kom moet die vierde kwartaal se groei minstens 4% wees.