Ek sien dit so!

Met gesprekke oor deelname, aldan nie aan volgende jaar se OVK-verkiesings stewig aan die gang, het ek dit goed gedink om my mening oor die aangeleentheid te lug.

Sedert 1994 se eerste sirkusvertoning, het ek myself voorgeneem om nooit deel te neem aan hierdie verkiesings nie. Daardie standpunt staan vandag sterker as ooit.

Die algemene argument van deelnemers kan soos volg opgesom word: “Jy moet stem anders gaan jou stem vir die ANC.”

Twak. As ek nie ‘n kruisie in die ANC-blokkie trek nie, stem ek nie vir hulle nie…tensy stemmers self die geloofwaardigheid van hierdie verkiesings bevraagteken. In daardie geval is ek baie bly dat ek nie deelneem nie.

“As jy nie stem nie, mag jy nie kla nie.”

Onsin, as ek nie stem nie, mag ek juis kla omdat ek geen aandeel het in die daarstelling van hierdie stelsel nie. Buitendien, as belastingbetaler het ek elke reg om te kla wanneer my belastinggeld verkeerd aangewend word.

“Jy moet die ANC keer om ‘n tweederde meerderheid te kry.”

Snert. In ’94 was die meeste mense maar alte tevrede met die geboorte van die sogenaamde reënboognasie, maar nou dat die werklikhede begin deurskyn, moet ek help keer? Dis julle draak, keer hom self.

“Jy moet stem sodat daar ‘n sterk opposisie is wat die regerende party ‘n bloedneus kan gee.”
Bog. Die enigste manier vir die daarstelling van ‘n sterk opposisie, is om miljoene swart stemmers se stemme te kry. Wanneer dit gebeur, moet selfs daardie opposisie-party die wil van sy ondersteuners tot uitvoer bring. ‘n Sterk opposisie is dus nie veel anders as ‘n tweede ANC nie.

Die sogenaamde vryheidsgesinde partye sal nie veel uitrig in die 2014-verkiesing nie. Een van hierdie partye sit reeds sedert ’94 met parlementêre verteenwoordiging. Kon hulle binne-parlementêr ‘n daadwerklike verskil teweegbring met betrekking tot iets soos ‘n volkstaat? Hulle antwoord sal seker wees: ‘Ja, Orania’. Daardie antwoord stel my geensins gerus nie.

Dan is daar die party wat in samewerking met ‘n groep op Bakkiesblad gaan deelneem om aan die wêreld te wys dat die wil vir selfbeskikking sterk is. Die groot probleem hiermee is dat daardie wil nie baie sterk gaan lyk as slegs vyfduisend mense vir hulle stem nie. Mens kan nie die uitslae voorspel nie, maar sal dit nie groter skade aanrig aan ons uiteindelike doel nie? Selfbeskikking.

Elkeen moet maar vir homself besluit. My besluit is lankal reeds gemaak. Soos die Rebelle van 1914, rebelleer ek teen hierdie regime se verkiesings. Stem reg, bly weg!

Boeregroete,
Kordaat Neelsie