Ek sien dit so!

Daar is iets wat aan my krap. En ja, ek besef dat hierdie eerste sin reeds op verskeie geleenthede gebruik is om die rubriek mee af te skop.

Hoeveel van die sogenaamde volksorganisasies beywer hulleself werklik vir die behoud van die volk? Dit wil voorkom of sommige organisasies net genoeg doen om soos ‘n stryder vir iets eerbaar te lyk, maar dan agter die skerms konkel om ons posisie te benadeel.

Aangesien talle volksgenote selfs die kleinste strooihalmpie van hoop sal aangryp, besef hulle nie aldag wie die mense agter sekere organisasies is nie. So is daar byvoorbeeld nog baie volksgenote wat onder die wanindruk verkeer dat Radio Pretoria steeds ‘n stryder vir ons vryheid is.

Dit is slegs een voorbeeld, maar as mense bietjie verdere ondersoek instel, sal hulle besef dat daar ‘n hele rits van hierdie organisasies is. Die eintlike vraag is: Waarom gee organisasies voor om iets te wees wat hulle nie is nie?

Wat opvallend is is die werkswyse van sulke organisasies. Dit herinner sterk aan die ou Boederbond taktiek. Ek sou dit soos volg opsom. Trap oor die lyn, en wanneer jy daaroor gekonfronteer word ignoreer jy die mense wat vrae vra. Dit gebeur soms wel dat een van hierdie meelopers sal reageer, nie om jou vrae te beantwoord nie, maar eerder om jou vrae te systap deur die vraesteller met onbenullighede te probeer diskrediteer.

Partykeer ontplof hierdie taktiek in die meeloper se gesig. Dit gebeur nie baie nie, maar elke nou en dan sien ‘n klomp mense deur sy agterbakse taktiek. Wanneer dit gebeur, val hy terug op sy oorspronklike taktiek en ignoreer jou soos die pes (wat jy vir hom is).

As daar nou een gesegde is wat sonder twyfel waar is, dan moet dit daardie een wees wat sê dat die leuen se bene korter as die waarheid s’n is. En glo my vry, die waarheid haal jou altyd in.

Boeregroete,

Kordaat Neelsie