E-t(r)ol weerstand bou op

Terwyl die onafwendbare datum van 3 Desember vir die instelling van e-tol al hoe nader kom is die weerstand besig om op te bou.

Sekere motoriste het reeds geswig en ander, op hierdie stadium nog ‘n groot meerderheid, weier om e-tol skyfies uit te neem. Die staatsorgane maak reeds benoude spronge met uitsprake en dreigemente wat soms vinniger verdwyn as wat dit verskyn.

Die aksie-groep wat tot onlangs die regsaksies gedryf het, bekend as Outa, se regsfondse het opgeraak, maar hulle gee nou ‘n video uit wat ‘n beroep op motoriste doen om op ‘n verenigde front te weier om voor die tollenaar te buig en te weier om tol te betaal.

Swart vakbonde het te kenne gegee dat hulle hulle weerstand teen die ongewilde en ondemokratiese afdwinging van tol gaan verskerp en wys daarop dat daar reeds vir die betrokke paaie betaal is met heffings op brandstof.

Politieke partye het die voordeel van die populêre verset raak gesien en begin deelneem. Die vêr linkse DA, wat nie bekend is as ‘n politieke party met besondere sterk beginsels nie, beweer selfs dat ‘n stem vir die DA ‘n stem teen e-tol is.

Die sosiale media, wat ‘n magtige wapen in die hande van die inwoners van ‘n land geword het om mee te mobiliseer teen onderdrukking, is besig om toenemend ingespan te word.

Die tydperk tot 3 Desember en selfs daarna kan ‘n baie interessante paar weke wees.