Duitse surplus onaanvaarbaar

Die EU het vir Duitsland vanaf Woensdag onder die vergrootglas geplaas omdat die land se handelsbalans ‘n te groot surplus wys. Die drie lande met die grootste negatiewe handelsbalanse wat ook dopgehou gaan word is Frankryk, Italië en Hongarye.

Volgens die President van die Europese Kommissie, Josè Manual Barroso, is die vraag of Duitsland nie nog meer kan doen om die sukkelende state in die EU te help nie.

Die Kommissie het nuwe magte ontvang om van nou af tot Mei aanstaande jaar die ekonomiese programme van sy 16 ledestate fyn dop te hou sodat hulle in lyn kan kom met die oorhoofse samehangende ekonomiese bestuur van die EU.

Volgens Barroso gaan dit nie oor die “kritisering” van Duitsland nie, maar oor die sukses van die EU as geheel.

Hy sê verder dat data toon dat Duitsland op ‘n konstante basis ‘n groot gedeelte van sy surplusfondse buite die EU belê en dat dit in almal se belang is dat dit eerder binne die EU tereg moet kom.