Droogte gaan vleis tekort meebring

In die Noord-Kaap is die droogte sodanig dat boere tot 40% van hulle diere van kant moes maak omdat hulle nie genoeg voer het vir almal nie.

Talle boere het al hul diere slagpale toe geneem omdat die voedingskoste meer geword het as wat die diere werd is.

Die ernstige toedrag van sake is nie net beperk tot die Noord-Kaap nie. Dele van die Vrystaat, Wes-Transvaal en Oos-Kaap gaan ook gebuk onder die droogte.

Kenners sê die land kan binnekort ’n ernstige tekort aan rooivleis ondervind en sal vleis waarskynlik ingevoer moet word.

Daar is gevalle waar boere genoodsaak is om dragtige diere te slag omdat die koeie te swak is om die kalf te versorg.

Binne etlike maande gaan rooivleis, veral skaapvleis baie skaars word, en dit sal noodwendig lei tot onbekostigbare pryse.

Van die ouer boere sê dit is die ergste droogte wat hulle nog ooit beleef het, en dit kan in sekere streke die ergste droogte in 70 jaar wees.

Daar is ook mense wat glo dat die droogte erger is as in 1933 toe die hele land gebuk gegaan het onder die grootste droogte in die afgelope 200 jaar.

Boere is erg ontstel oor die feit dat die regering se hulp hoofsaaklik daarop toegespits is om opkomende boere te help, terwyl die voedselprodusente self oor die weg moet kom.