Driedubbele tragedie tref gesin

‘n Bloemfonteinse gesin het binne dae ‘n vader, moeder en seun aan die dood afgegee.Die neurochirurg, dr. Pieter Repko (83), sy vrou, Annchen (80), en hul 53-jarige seun, Killie, is kort ná mekaar dood

Dr. Repko, wat so te sê neurochirurgie in 1962 in Bloemfontein begin het, is ná ’n dae lange koma in die Mediclinic Bloemfontein dood. Hy het vermoedelik Maandagnag ’n beroerte in sy huis in Hillsboro gehad.

Repko se dood volg op sy vrou, ’n tuisteskepper en kunstenaar, se afsterwe Woensdagoggend in die Serenitas-aftreeoord se spesiale versorgingseenheid. Sy het haar maande lange stryd teen kanker verloor.

Die egpaar se seun Killie, ’n boer en sakeman van Humansdorp, ook ’n kankerlyer, is Maandagoggend op sy tuisdorp dood.

Hy is twee jaar gelede met limfklierkanker gediagnoseer.

Repko het voor sy beroerte geweet sy seun is dié oggend oorlede. Hy was nog verlede Maandag by sy praktyk in die stad. Hy het in 1996 op die rype ouderdom van 76 sy meestersgraad in neurofilosofie met lof aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Repko het voor sy dood nog in geregtelike mediese evaluasie gespesialiseer en was ’n gesogte deskundige op die gebied van breinbeserings.

Die egpaar laat hul seun prof. Jan Repko van die Chetham-musiekskool in Engeland, ’n dogter, Liese Naudé van Durban, nege kleinkinders en drie agterkleinkinders agter.

Killie word ook deur sy vrou, Diedré, twee seuns, Pieter (23) en Reinier (21), oorleef.