Drankmisbruik vernietig mans se lewens

Drankmisbruik is die nommer een faktor wat die meeste mans se gesondheid en geluk befoeter, het ‘n omvattende studie oor sewe dekades deur die Harvard-universiteit in die VSA bevind.

Interessant van die studie, waarvan die resultate in ‘n boek, Triumphs of Experience, deur die huidige projekleier, geskryf is, is die sterk verband tussen depressie en alkoholmisbruik. In die meeste gevalle het depressie na die alhoholmisbruik gekom en nie anders om nie.

Daar is ook bevind dat mense wat op hulle oudag floreer, nie so goed in hulle middejare gevaar het nie en andersom.

Die belangrikheid van ‘n stabiele kinderlewe is ook bevestig daarin dat ‘n gelukkige kinderlewe ‘n lewenslange bron van vreugde en krag is. Hoewel dit moontlik is om van ‘n moeilike kinderlewe te herstel.

Gewoontes en keuses vroeg in jou lewe sal eerder bepaal of jy met grasie en lewenskrag sal verouder as jou genetiese samestelling.