Dit ís nodig!

Ek wil vandag so bietjie in die bresse tree vir die agbare leier van die Republiek van Kromengeel. Die mense het nou werklik al liters kritiek op hom laat neerstort oor ‘n beskeie ou vakansie-oordjie wat hy vir sy gesinnetjie laat bou het. Dit Zoem al dae lank hieroor en dit is tyd dat iemand iets sê van buite sy kring van woordvleggers…ek bedoel -voerders.

Die rede vir my simpatieke oor is dat daar werklik billike redes aangevoer word vir die verbeterings! Zumaville net sy mensies beskerm!

Nommer Een: Die arme man word beskuldig omdat sy argitek uit die kombuis uit werk en sy planne met vetkryt teken! Die hele ding sou etlike biljoene meer gekos het as hy iemand gebruik het wat Argitek kon spel!

Tweedens: Die versperrings van 4 meter hoog is aangebring omdat verkragtings in die gebied baie gereeld gebeur! Wie kan daarteen stry? Besoek Zuma dan nie die plek gereeld nie?

In die derde plek: Ander redes wat aangevoer word vir die groot verbeterings is vloede, brande, storms, sluipmoorde en lugrampe. Mense, as die boere in jou land gebuk gaan onder vloede, brande en storms en jy stuur R100 miljoen se hulp aan Namibië se boere en as jy elke tweede jaar miljoene belastingbetalersrande aan die lugramp SAL spandeer het sou jy ook bekommerd gewees het oor sluipmoorde!

En verder: Ek besef ‘n mens kritiseer nie jou werkgewer nie, maar ek weet Die Vryburger dank nie mense af net omdat hulle kritiseer nie. Daarom wys ek op die fout in die beriggewing. Daar word gesê dat daar 50 jaar gelede laas ‘n aardbewing in die gebied van Nskandla was wat maar 3.1 op Adriaan Richter se skaal geweeg het en dat die ergste een van 4.3 Richters 80 jaar gelede was. Hier moet ek kwalifiseer. Die laaste natúúrlike aarbewing was dalk 50 jaar gelede maar ek het binne-inligting dat Zuma se vroue elke woensdagoggend byeenkom met deurtrekker leeuveltiertarte en vassuigbroeke om saam te dans op ‘n Cindy Crawford aerobics video. Dit het elke woensdag ten minste 8.5 gehaal op die skudskaal tot die skaal gebreek het!

Daar is dus goeie redes vir alles! Julle is te hard op die stortkop en hanteer hom soos ‘n badprop met ‘n platkop!

Tot volgende slag

Die Sweep