Dit gons nog oor kunswerke

Tussen leë blikkies en noedels in ’n morsige woonstel in München is die grootste kunsontdekking van die naoorlogse tyd gedoen.

Midde ’n allemintige regs- en morele geding oor die vonds vroeër vandeesweek van die altesaam 1 406 kunswerke gebuit deur die Nazi-regime is nog net 200 van die gevonde werke aan die Art Loss Register vir verlore meesterwerke verbind.

Die waarde van die werke word konserwatief op nagenoeg R13,77 miljard geraam, aangesien nog nie al die werke bekend gemaak is nie.

“ ’n Ongelooflike vreugde.” Só beskryf die kunshistorikus Meike Hoffmann van die Vrye Universiteit in Berlyn haar reaksie met die eerste oogopslag van die werke. Sy het net 500 van die werke nagegaan.

Sy het verlede week, op ’n nuuskonferensie gesê die kunswêreld is veral opgewonde oor die ontdekking van ’n waardevolle Matisse-skildery wat van 1920 dateer en werke wat voorheen onbekend of nog glad nie gesien is nie.

Dit sluit in ’n Otto Dix-selfportret van rondom 1919 en ’n werk van Marc Chagall wat ’n tipiese allegoriese toneel uitbeeld.

Altesaam 121 geraamde werke en 1,285 ongeraamde werke wat insluit die 20ste eeuse meesters Picasso, Chagall, Max Liebermann en Ernst Ludwig Kirchner, asook vroeë werke van Henri de Toulouse-Lautrec, Gustave Courbet, Auguste Renoir en Canaletto, is gevind.

Die oudste werk is van die 16de eeu.

Die werke is in besit van Cornelius Gurlitt (80), seun van ’n Duitse kunshandelaar, Hildebrand Gurlitt, gevind.

Volgens aanvanklike berigte is Gurlitt deur die Nazi-propaganda-minister Joseph Goebbels opdrag gegee om werke wat die Nazi’s as “gedegenereerde kuns of verworde kuns” bestempel het, oorsee te verkoop om die staatskoffers aan te vul.

Dit is egter nog onseker waar die werke wat gevind is, inpas.