Dis ‘n maagwerkmiddel

Die vervaardigers van “Body Detox” beweer dat hulle magnesium bevattende produkte, moontlik kwale en siektes kan genees, wat ondermeer insluit diabetes, borskanker en selfs kolonkanker.

Die vervaardigers weier dus om gehoor te gee aan ’n tweede uitspraak van die Gesagsliggaam vir Reklamestandaarde (GRS) wat die maatskappy belet het om dié produkte te adverteer soos tot nou toe gedoen is.

Die instansie wat “Miracle Magnesium Oil” en ander magnesium bevattende produkte vervaardig, beskuldig die GRS van eensydigheid.

Die eienaar, Marcelle du Plessis, beweer sy beskik oor bewyse wat sy glo aan die GRS gegee het. Die bewyse dui daarop dat gereelde spuiting daarvan op die vel, en mond innames, die simptome van talle siektes en ongesteldhede “moontlik” kan behandel, soos in advertensies beweer word.

Sy beweer dat die GRS haar bewysstukke ignoreer, en derhalwe gaan sy onverpoos daarmee voort.

Leon Grobler van die GRS wys egter daarop dat geen bewyse van waar die navorsing gepubliseer is, gelewer is nie. Hy beweer die een studie wat gedoen is, is deur ’n dokter wat self belang het by die verkope van magnesium produkte.

Du Plessis het gesê haar advertensies noem net dat die magnesium kanker “moontlik” kan behandel maar die publiek moet hul eie diskresie gebruik.

Dr. Harris Steinman sê egter anders.

“Daar is geen mediese bewyse dat magnesium die lys van kwale op die advertensies kan behandel nie. Dit is alles leuens,” sê hy.

Prof. Roy Jobson, ’n farmakoloog van die Rhodes-universiteit, beweer magnesium wat deur die mond ingeneem word, sal maagwerking veroorsaak, en niks meer nie.

Die GRS se beslissing bepaal glo dat geen media instansie advertensies van die produkte sonder toestemming van GRS mag publiseer of uitsaai nie.

Dit is bekend dat Radio Pretoria promosies en advertensies uitsaai van dié instansie se  skynbaar nuttelose produkte.

’n Voormalige direkteur van dié radiostasie sê dit blyk asof die bestuur en direksie nie omgee dat hulle luisteraars geld verkwis op die produkte nie, solank die Radio net inkomste kan realiseer uit die advertensies.

Foto – Marcelle du Plessis