Dieselvoertuie bevorder hooikoors

In ’n navorsingsprojek het ’n kenner op die gebied van allergieë, dr. Adrian Morris, bevind dat dieselvoertuie se uitlaatgasse bevorderlik is vir hooikoors.

Hy sê na mate die dieselvoertuie meer word, vermeerder die gevalle van ernstige hooikoors.

Voorheen was daar slegs vragmotors wat met dieselmasjiene toegerus is, maar deesdae is daar baie motors wat diesel brandstof gebruik.

Dit is veral in stedelike gebiede waar die toename die ergste is, wat ook daartoe lei dat hooikoors gevalle nie net meer word nie, maar ook in ’n meer ernstige graad voorkom by mense.

Morris sê die klein deeltjies wat in diesel se uitlaatgasse voorkom, kleef aan stuifmeel en pak makliker in die bors, lugweg en longe.

Dieselvoertuie word al meer gewild vanweë die besparing wat teweeg gebring word met brandstof verbruik.

Mense wat met hooikoors gepla is, sukkel gewoonlik meer in die somermaande, en as hulle in stedelike gebiede woon, is die probleem soveel erger, het Morris gesê.