Die skone kunste

Wanneer ’n volk sy kunste verwaarloos, verwaarloos die volk!

Waar is ons volk se moderne NP van Wyk Louw, en waar is ons jonger G. A. Watermeyer, en ons opvolger vir Langenhoven?

Wat het geword van sangers soos Ge Korsten en Gert Potgieter, Nellie du Toit, Hanlie van Niekerk?

Waar is almal dan dat ons deesdae net ’n gebokspring met geraas hoor en dit dan afmaak as moderne kuns!

Moet die kunste van KKNK en andere, wat gewoon maar meestal beskou kan word as ligte vermaak, dan nou die Boere-Afrikaner se kultuur norm en standaard wees?

Dit kan tog nie wees nie, want as dit waar is, dan het ons volk vervlak en verwaarloos geraak en gaan ons in die niet verdwyn, want volke wat hulle kulturele waardes misken, vertrap, ignoreer of verwaarloos, het hulleself ook verloor en sal nie staande bly nie.

Daarom het dit tyd geword dat ons weer die ou waardes sal opdiep, afstof van die rak, en dit weer blink vryf sodat ons die trots van gister kan vestig in die harte van môre se jeug.

As ’n Andre Huguenot die volk opwek tot patriotiese stryders met sy verhoogstukke, dan weet elkeen wat dit beleef het dat die kultuuroordrag die vryheidsvlam se lewe bepaal.

As daardie oordrag geklee is in ligsinnigheid en goedkoop vermaak, dan is die toekoms presies ook so – daar sal geen diepte, of geen standhoudende voordeel vir die nageslag wees nie.

Dan word ons maar net nog ’n klein kultuurlose minderheid in donker-Afrika.

Maar as ons die geskiedenis van ons volk, die goeie en die slegte daarvan, met swier en styl, ingebed in waarheid, oordra aan die geslagte wat kom, dan sal ’n nuwe generasie wat vaardig geword het, die kunste laat gedy om die Boere-Afrikaner weer trots en sterk te maak.

Ek rig hierdie skrywe aan elke volksgenoot wat dit erns maak met sy volksbestaan, met ons hoop op wat sal wees, en die gebed van ons hart – dat ons ’n vrye volk sal word deur nie die skoner dinge van ons volk-wees te verwaarloos nie.

Daarom hoop ek dat Die Vryburger ook hieraan aandag sal gee in sy strewe om die volk op koers te hou saam met diegene wat dit erns maak met ons hoogste ideale.