Die hamer en sekel werk!

Dit het nou, net soos in die dae agter die Ystergordyn, onwettig geword om pres. Jacob Zuma se huis by Nkandla (Zumaville) te publiseer of te versprei – niemand mag dit sien nie!.

“Dit is teen die wet. Ons vra mooi dat dit nie langer gedoen moet word nie,” het Siyabonga Cwele, die Minister van Staatsveiligheid, tydens ‘n mediakonferensie gesê.

Cwele, sowel as Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, het gesê dit is teen die wet om ’n foto van “nasionale sleutelpunte” te publiseer of te versprei.

Wat vir waarnemers ontstellend is, is die feit dat die ministers toe ook van die geleentheid gebruik gemaak het om die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, by te kom omdat sy te kenne gegee het dat sy eerder met amptenare sal werk as met ministers omdat hulle die hele saak van Zumaville verpolitiseer het.

Wat egter nie gesê is nie, is wat die regering gaan doen om foto’s van Zuma se huis wat reeds op die internet rond swerf, te verbied.

Daar bestaan ook onsekerheid of ’n nasionale sleutelpunt soos die Uniegebou in Pretoria, nie verder gepubliseer mag word nie, en so ook die parlementsgebou in Kaapstad wat elke jaar, tydens die opening van die parlement, wêreldwyd versprei word deur die elektroniese media.

Kenners van die kommunisme meen dit herinner sterk aan die dae toe besoekers belet was om foto/s te neem in Rusland, en veral in Moskou.

Dit is egter duidelik dat die ANC regering totaal agter die tyd is, want die tegnologie is nou so gesofistikeerd dat enige gebou in Suid-Afrika deur middel van satelliet-toerusting afgeneem kan word.

Waarnemers het aan Die Vryburger gesê die regering het hulleself uiters belaglik gemaak om so ’n onsinnigheid as “wet” te wil voorhou, terwyl ’n wolk van ongerymdheid oor die hele Nkandla-saak hang.