Die armste president skok wêreld

President Jose Mujica, die wêreld se armste president, het die wêreld verras deur dagga in Uruguay te wettig.

‘n Wet wat reeds in die laer huis van die Kongres aanvaar is en wat na verwagting ook deur die Senaat bekragtig sal word, maak Uruguay die eerste land in die wêreld wat dagga sal lisensieer en regulasies bepaal vir die produksie, verspreiding en verkoop daarvan aan volwasse verbruikers.

Uruguay hoop om die wêreld se eerste toetsgeval te wees vir ‘n idee wat besig is om momentum in Latyns-Amerika te kry – dat die wettiging en regulering van sekere dwelms die kartelmisdaad wat groot dele van die streek vernietig, sal beveg.

‘n Onlangse toespraak deur Mujica by die Verenigde Nasies waarin hy uitspattigheid en oppervlakkigheid verwerp het, het ook aandag getrek.

"Ons het die ou nie-materialistiese gode geoffer en ons aanbid nou in die tempel van die Markgod. Hy organiseer ons ekonomie, politiek, gewoontes, lewens en gee vir ons kredietkaarte sodat dit lyk asof ons gelukkig is.

"Dit lyk asof ons gebore word om verbruikers te wees, en as ons dit nie kan volhou nie, voel ons gefrustreerd en glo ons is arm en word outomaties gemarginaliseer."

Sy voorkoms mag dié van ‘n werkersklas oupa wees, maar die 78-jaar-oue Mujico is ‘n man met ‘n kragtige boodskap, ‘n leier enig in sy soort.

Ook bekend as Pepe Mujica, weier hy om in die luukse presidensie te bly en woon steeds in sy beskeie woning wat hy met sy senator-vrou deel.

Dis hierdie lewenstyl van hom en die feit dat hy 90% van sy salaris aan die staatskas teruggee, wat hom die etiket van die "armste president" gegee het.

"Diegene wat my so beskryf is in werklikheid self arm," sê hy.

My definisie van arm is vir diegene wat te veel wil hê. Want die wat te veel wil hê is nimmer tevrede."