Departement se plan werk nie!

Die pogings van Departement Openbare Werke om afgetrede ingenieurs, argitekte, bourekenaars en projekbestuurders te betrek om die ernstige tekort aan te vul, is besig om klaaglik te misluk.

Te midde van ’n buitengewone en ruim begroting om die tekort aan te vul met kundiges wat reeds afgetree het, vorder die Departement geensins.

Die verskoning wat aangebied word, is dat afgetredenes nie op die advertensies in die media reageer nie, en die Departement moet meeding met aanbiedinge uit die buiteland.

Minister Thulas Nxesi, het gesê die Departement kon tot hede slegs 27 van die 196 vakante poste vul.

In 2012 het die tesourie R66 miljoen na die Departement geallokeer ten einde die tekort aan kundige, ervare tegniese werkers aan te vul.

Tans is daar poste vakant vir 71 Ingenieurs, 12 bourekenaars, 100 projekbestuurders en 10 argitekte.

Waarnemers meen dat buitelandse instansies hoegenaamd nie mense uit Suid-Afrika sal probeer lok met beter aanbiedinge, terwyl sulke mense reeds afgetree het nie. Die hoofrede word eerder gesien dat hierdie mense nie bereid is om onder die bestuur van onopgeleide, onervare werkers, te werk nie.

Foto – Minister Thulas Nxesi