CVO Kleinfontein sê dankie!

Daar is een aand waarna elke leerling uitsien. Prysuitdeling!

Dit is die aand waar elke kinder-ogie van soveel verwagting en opgewondenheid straal.

Woensdag, 6 November 2013, was geen uitsondering by CVO Kleinfontein nie.

Dit was die jaarlikse meriete toekennings waar elke kind sy belonging ontvang het vir ‘n jaar se harde werk en deursettingsvermoë.

Die saal was pragtig versier. Op die verhoog het die boekpryse, sertifikate en trofeë gepryk.

Maar hierdie jaar was daar egter ‘n ekstra tafeltjie.

’n Tafel wat oorgeloop het met geskenkpakkies vir elke leerling!

Elke leerling het sy erkenning ontvang met ‘n wye glimlag en diepe tevredenheid.

Trofeë is uitgedeel. Gelukwense het die hele saal vol gedwarrel.

‘n Tekort aan onderskeidings was daar verseker nie. Elke graad het verskeie onderskeidings gehad.

Na afloop van elke graad se toekennings was daar ‘n geskenkpakkie aan elkeen oorhandig.

Die geskenkpakkies het die nodige skryfbehoeftes vir 2014 bevat, ‘n bykomende geskenkie en ‘n klomp lekkers om dit mee af te rond.

Die pakkies is geskenk deur vriende in die buiteland.

Ruben Rosiers en Guido Bruno het die skool vroeër die jaar besoek.

Die kinders noem hulle die “flaminke”, omdat Ruben van Vlaminge af kom!

‘n Baie groot dank aan hul vir die diepe belangstelling in ons kinders.

Die vakansie lê vir elk van die kinders voor. ‘n Blye tyd vir ‘n ieder en elk.

Ons hoop dat elkeen sy vakansie en feestyd sal geniet sodat hul volgende jaar met soveel meer ywer en geesdrif die nuwe jaar kan aanpak.