Boer onskuldig bevind

Mnr. Barry Nel (30), ’n boer in die Odendaalsrus distrik wat van moord en menseroof aangekla is nadat hy glo ’n vermeende dief in die mielieland doodgeslaan het, is in die streekhof vrygespreek op die twee aanklagte.

Die landdros, Susan Meintjies, het bevind dat die staat in gebreke gebly het om bewyse te lewer teen Nel, en die twee ooggetuies se weergawes het sy beskryf as “die swakste getuienisse wat sy ooit moes aanhoor in ’n hof.

Blykbaar het die getuies mekaar gedurig weerspreek. Aanvanklik is hulle saam met Nel aangekla, maar het toe as staatsgetuies gedraai.

Adv. Johan Nel het uiteindelik gesê die verhoor is talle kere uitgestel, en die saak vorder soos ’’n “ou motorkar wat al proestende probeer beweeg”.

In Maart 2009 is mnr. Nel aangekla dat hy Daniël Motlhanke (54), die betrokke aand in die mielieland betrap het toe hy besig was om mielies te steel.

Nel het hom glo ten aanskoue van twee ooggetuies, doodgeslaan en sy liggaam langs die pad buite die dorp laat lê het.