Blanke belastingbetaler weer gemelk

Al die munisipaliteite aan die Wes-Rand moet in een groot metro saamgesmelt word sodat die armer munisipaliteite by die hulpbronne van die gegoede munisipaliteite kan baat vind, het David Makhura, ’n ANC-sekretaris, gister gesê.

Volgens hom is dit die beste manier om die probleem van swak dienslewering in gebiede soos Bekkersdal by Westonaria te takel en gepaardgaande gewelddadige diensleweringsbetogings hok te slaan.

“Die finale antwoord op daardie probleem is om een metro aan die Wes-Rand te vestig. Dit sal nie help om die Westonaria munisipaliteit onder administrasie te plaas nie.”

Dumisani Dakile, sekretaris van Cosatu, stem saam.

Volgens hom is die Westonaria-munisipaliteit nie lewensvatbaar nie.

“Ons moet een metro vorm en al die hulpbronne (van die verskillende munisipaliteite) kombineer.”

Makhura het gesê die munisipale afbakeningsraad se voorstel dat die Westonaria- en die Randfontein-munisipaliteit saamsmelt, is nie goed genoeg nie.

“Albei munisipaliteite is armoedig. Dit is soos om -1 en -1 bymekaar te tel en jy verwag om 2 te kry.”

Volgens hom sal die Westonaria-munisipaliteit in duie stort as dit nie met ander munisipaliteite saamsmelt nie.

Die idee om al die munisipaliteite in een metro te konsolideer, is op vergaderings tussen inwoners van Bekkersdal, die ANC in Sentraal Transvaal en Lechesa Tsenoli, Minister van Samewerkende Regering en tradisionele sake, bespreek.