BlackBerry probeer selfhelp

Die Kanadese selfoonvervaardiger, BlackBerry, het op 4 November bekend gemaak dat hulle nie meer na ‘n belegger gaan soek om hulle oor te neem nie.

Die besluit volg na verskeie maande se onsuksesvolle pogings waar daar gesprekke gevoer was met Cisco Systems, Google, SAP, Lenovo, Samsung, LG en Intel om die maatskappy gedeeltelik of as eenheid te oor te neem.

Daar is op 4 November onverwags aangekondig dat BlackBerry se hoofuitvoerende  beampte, Thorsten Heins, die maatskappy binne twee weke gaan verlaat en dat hy tydelik vervang sal word deur John Chen.

Die aankondiging het die maatskappy se aandeleprys ineen laat stort.

Chen het gesê dat daar geen sprake van is dat BlackBerry sal toemaak nie, en dat hulle die maatskappy gaan herstel deur $1-miljard se befondsing te bekom van hulle grootste aandeelhouer Fairfax Financial Holdings en ander institusionele beleggers. Volgens Chen sal daar met die verliesmakende handtoestel se produksie voort gegaan word en is daar genoeg potensiaal om die maatskappy weer volhoubaar winsgewend te maak.

Chen het gesê dat verskeie veranderings in die uitvoerende span gaan plaasvind met nuwe gesigte wat van buite af ingebring gaan word en bevorderings binne eie geledere.