Beste brief deur 13-jarige geskryf.

’n Skooldogter (13) van Randfontein is Suid-Afrika se heel beste jong briefskrywer.

Charlize Janse van Rensburg, ’n gr. 7-leerling aan die Laerskool Randfontein, het in die Poskantoor se jaarlikse briefskryf kompetisie, waarvoor kinders tot die ouderdom van 15 jaar kan inskryf, geseëvier.

Leerlinge moes vanjaar ’n brief skryf waarin hulle verduidelik waarom water ’n kosbare hulpbron is.

Charlize het gesê haar brief – in Engels – is uit die perspektief van ’n posduif geskryf.

“Dit is die posduif se oogblik waar hy oor Suid-Afrika se land en velde vlieg en sien hoe mense en diere van water afhanklik is,” het sy gesê.

Sy het die brief reeds in Maart geskryf. Haar skool het dit aan die Poskantoor gestuur en sy het al daarvan vergeet.

Volgens Xolelwa Mfengu, wat bemarking vir die Poskantoor doen, was Charlize se brief die beste uit die 4,724 inskrywings wat hulle gekry het.

Dit het Charlize ’n oomblik geneem om daarvan te onthou toe een van haar onderwysers kom sê het sy het gewen.

“Dit was ’n ongelooflike groot eer om te wen,” het Charlize gesê.

“Ek was redelik verbaas. Dit dien as motivering vir die toekoms.”

Sy het vertel haar onderwysers en skoolmaats is almal trots op haar.

Die oorwinning kom met prysgeld van R15,000 aan haar en R25,000 vir haar skool.

Charlize het vanjaar ook pryse ingeoes vir lees, redenering en poësie.“Ek het ’n passie vir taal en skryf,” het sy gesê.

Sy lees graag koerant, National Geographic en klassieke literatuur. Roald Dahl is haar gunstelingskrywer.

Charlize en haar gesin trek volgende jaar Wes-Kaap toe waar sy haar hoërskoolloopbaan in Somerset-Wes sal begin.

Sy het reeds haar oog op die Universiteit van Stellenbosch en wil eendag ’n joernalis word.