Bedrog toename skrikwekkend

Die hoofoorsaak van identiteitsbedrog lê daarin dat byna 70% daarvan veroorsaak word deur mense wat by instansies werksaam is waar jou persoonlike gegewens, as kliënt,  op hulle databank is.

Die tipe bedrog is besig om ernstige afmetings aan te neem en dit blyk asof daar geen kits oplossing is om dit hok te slaan nie.

Dit is die mening van ’n deskundige op die gebied, Carole McLoughlin, uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Bedrog Voorkomingsdiens (SAFPS).

Intussen het die regering ’n nuwe wet op die beskerming van persoonlike inligting op die Wetboek geplaas, maar kenners sê dit is slegs van akademiese belang.

Identiteitsbedrog het sedert 2009 meer as verdriedubbel, en dit blyk asof daar geen manier is hoe dit vasgevat gaan word nie.

“Waar ons voorheen twee klagtes per dag gekry het, is daar nou daagliks tien en meer”, het ’n woordvoerder gesê.

’n Woordvoerder van Oranje Sake Instituut het aan Die Vryburger gesê die grootste probleem lê waarskynlik by banke en ander groter instellings, waar mense se volledige besonderhede beskikbaar is, en dan deur onbetroubare personeel misbruik word op verskillende maniere.

Dié wetsontwerp, wat goedgekeur is, het die bedoeling om mense se reg op privaatheid van persoonlike inligting te beskerm, en instansies soos banke en sakeondernemings te verplig om maatreëls in te bou wat sal verseker dat kliënte se inligting vertroulik hanteer sal word.