Bedrog, diefstal en geldwassery!

Ondanks aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery, het die ANC geen planne om Pule Mabe, ‘n lid van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) te skors nie.

Mabe, wat tot verlede jaar nog saam met Julius Malema in die ANC-jeugliga se topleierskorps was, is Vrydag in hegtenis geneem, waarna hy saam met nog twee beskuldigdes in die handelshof in Pretoria verskyn het.

Tydens die beleid- en nasionale kongres verlede jaar, het die ANC onderneem om op te tree teen korrupte kaders en dié wat die ANC se reputasie skade berokken. Fikile Mbalula, Minister van Sport, het op die beleidskongres in Midrand gesê daar is besluit kaders oor wie ’n wolk hang, moet dadelik opsy staan totdat hulle vrygespreek word.

Daar is selfs besluit om ‘n integriteitskommissie op die been te bring wat ANC-lede kan dwing om te bedank as hulle integriteit onder verdenking is. Nietemin het Keith Khoza, ANC-woordvoerder, gesê Mabe bly ’n NUK-lid.

Na bewering het sy medebeskuldigde Paseka Letsatsi, kommunikasiehoof van die maatskaplike sekerheidsagentskap (Sassa), Sassa-geld uitbetaal aan maatskappye wat aan Mabe en sy sakevennoot Kabedi Ramosa behoort.

Die drie is Vrydag vrygelaat op borgtog van R10 000 elk.