Bawusa dreig boere alweer

Nosey Pieterse, sekretaris-generaal van die plaaswerkersvakbond Bawusa, dreig boere alweer as hulle nie hul werkers beter behandel nie. Hy het sowat 150 inwoners en plaaswerkers by ’n optog toegespreek.

Honderde mense is aanvanklik by die optog verwag en die swak opkoms is toegeskryf aan die reën en staatstoelae wat gister uitbetaal is.

Die optog is gereël om die plaaswerkstaking van 2012 te herdenk. Dié staking het gelei tot ’n nuwe minimum loon van R105 per dag vir plaaswerkers.

Pieterse het gister beweer sommige boere het diensvoorwaardes “eensydig” verander ná dié loonvasstelling.

Daar is die afgelope twee weke ook met vakbondverteenwoordigers op De Doorns vergader om die werksomstandighede op plase te bespreek.

“Op De Doorns is daar weerwraak deur die boere geneem omdat die werkers gewaag het om hul mag uit te daag.

Nou wil die boere nie die werkers aanstel nie.

“Vryheid van assosiasie en die eensydige veranderings aan die werksomstandighede is ook bespreek. Sommige mense glo daar is net een oplossing . . . ’n staking.”

Bawusa het ná die vasstelling van die minimum loon vanjaar 152 plase besoek om plaaswerkers se omstandighede te ondersoek. ’n Verslag is hieroor opgestel en gisteroggend aan ’n verteenwoordiger van die departement van landbou oorhandig.

Oor die ondersoek het Pieterse gesê: “Daar is mense wat nou moet huur betaal wat dit nooit vantevore betaal het nie; sommiges wat nie elektrisiteit betaal het nie, maar nou daarvoor betaal.

“Dis ’n hele paar diensvoorwaardes wat eensydig verander is.”

Carl Opperman, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê hulle het geen insae in die verslag nie.

“In die verlede het hulle ook verslae opgestel en ons het daarna gaan kyk en bevind dis op leuens gebaseer.

“Nosey weet daar is sekere tye wanneer ons meer mense benodig. Die boere neem mense in diens volgens hul behoeftes en ons sal mense aanstel waar daar produktiwiteit nodig is.”

Foto – Nosey Pieterse