Arafat is vergiftig

Bewyse is gevind dat die Palestynse leier Jasser Arafat in 2004 vergiftig is. Patoloë het tekens van radio-aktiewe polonium in monsters van sy lyk gevind.

Sy weduwee, Suha, het gister gesê sy het die uitslag ontvang van toetse wat in Switserland gedoen is.

“Dit was dus ’n misdaad, ’n politieke sluipmoord,” het sy gesê.

Arafat het talle aanslae op sy lewe oorleef, maar is in 2004 dood nadat hy siek geword het – amptenare het gesê hy het griep – en in ’n hospitaal in Frankryk opgeneem is.

Hy is kort daarna dood.

’n Span kenners het sy graf in die stad Ramallah in November oopgemaak en monsters van sy lyk geneem.

Suha het nie ’n land of individu geblameer nie en net gesê dat Arafat, leier van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, baie vyande gehad het.

“Selfs mense in sy eie geledere sou hom uit die weg wou ruim”, get sy gesê.

Israel het nog altyd ontken dat hy iets met Arafat se dood te doen gehad het en gesê dat hy oud was en ’n ongesonde leefstyl gehad het.

Die bevindings is nog nie amptelik openbaar gemaak nie.

Prof. David Barclay, ’n Britse forensiese wetenskaplike, het gesê die polonium wat gebruik is, is waarskynlik in ’n kernreaktor gemaak. Iemand het waarskynlik ’n korreltjie daarvan in enigiets van kos tot tandepasta geplaas.