ANC se politieke skool loop dood

‘n Stuk grond staan nog leeg waar die ANC ses jaar gelede onderneem het om ‘n skool te bou om politieke onderrig vir sy lede te verskaf.

In 2009 het die ANC ‘n plaas aan die oewer van die Vaalrivier tussen Parys en Potchefstroom gekoop en hoewel bouplanne twee jaar gelede gefinaliseer is, is geen steen gekap of gelê nie.

Na verneem word het adj-pres. Kgalema Motlanthe, wat deur pres. Jacob Zuma as hoof van die party se politieke skool aangestel is, belangstelling in die projek verloor. Die gevoel is ook dat te midde van die ANC se verkiesingsveldtog is die bou van die skool, wat miljoene sal kos, ook nie meer vir die party ’n prioriteit nie.

Die feit dat verskeie ANC-leiers die party die laaste paar jaar kort-kort in die verleentheid gestel het deur betrokke te raak in onwettige optredes, versterk die indruk dat die ANC korrup is. 

Daarom het die party  in 2007 in Pietersburg ’n resolusie aanvaar om politieke opleiding vir sy nou meer as 1 miljoen ­lede te prioritiseer en ’n politieke skool te vestig.

Die doel was dat die "leerlinge/lede" meer oor die ANC en die land se geskiedenis, etiek, kommunikasie en maatskaplike ontwikkeling moet leer.

Politieke ontleders meen dat die Adjunk president. Motlanthe se wrewel teenoor Zuma, ook iets te doen het met die feit dat die “leerskool” nie van die grond sal kom nie.

Jan Fiskaal sê so sukkel die ANC om ‘n skool te bou, om nie eers te praat van toerus nie. Dis buitendien ook maklik om belangstelling in ‘n projek te verloor as jy ‘n veilige plek in die eerste klas van die soustrein het.