Alweer uitstel vir Nkandla

Die ministers van Polisie, Openbare Werke, Verdediging en Staatsveiligheid het die Openbare Beskermer (OB)  in kennis gestel, hulle bring ’n dringende hofaansoek om te keer dat die voorlopige verslag oor Nkandla vir kommentaar na ander belanghebbende derde partye gestuur word.

Die ministers, wat tot verlede week tyd gehad het om kommentaar op die verslag te lewer, het in hul hofstukke die hof vir uitstel tot volgende Vrydag gevra vir hul skriftelike kommentaar op die verslag.

Omdat die OB behoorlik kans wou hê om op die ministers se hof-aansoek te reageer, het die partye ’n skikking bereik dat die hofaansoek dan aangehoor word.

Die ministers sê in die hofstukke die voorlopige verslag “onthul ’n oorvloed van skendings van staatsveiligheid” wat geïdentifiseer moet word voordat dit uit dié verslag weggelaat kan word.

Een van die hofbevele wat die ministers vra, is dat wanneer die OB hul kommentaar ontvang, sy haar “hersiene voorlopige verslag, indien enige”, aan hulle voorlê sodat hulle kan bepaal of die kommerwekkende kwessies wat hulle oor sekuriteit geopper het, aandag gekry het.

Nathi Mthethwa, Minister van Polisie, sê hy en die ander ministers het op 1 November die 357 bladsye van die voorlopige verslag ontvang.

Hulle het tot 6 November tyd gehad om daarop te reageer, maar hulle het tyd nodig gehad om dit ordentlik te ontleed en al die “veiligheidsprobleme” te identifiseer.

As die OB die verslag sonder die ministers se toestemming aan derde partye beskikbaar sou stel, is dit onwettig en kan daar strafregtelik opgetree word, sê hy.

Die OB mag nie geklassifiseerde, “uiters geheime” en vertroulike inligting bekend maak wat die veiligheid van die staat en Zuma ernstig in gedrang kan bring nie.