Al weer aardverwarming

Vyf maande nadat die konsentrasie koolstofdioksied (CO2) die kerf van 400d/m (deeltjies per miljoen) in die atmosfeer bereik het, is dié vlak steeds vandeesmaand plek-plek in die wêreld oorskry.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) het in ’n verklaring gesê by verskeie stasies waar die CO2-konsentrasie in die atmosfeer gemeet word, soos in Hawaii en by die Noordpool, is dié vlak pas oorskry.

As dié styging volgehou word, sal die CO2-konsentrasie in die atmosfeer die kerf van 400d/m binne die volgende “net meer as ’n jaar” algeheel oorskry, skryf die WMO in sy Greenhouse Gas Bulletin (GGB).

In Mei vanjaar het die konsentrasie CO2in die atmosfeer vir die eerste keer sedert metings in 1958 begin het, die 400d/m-kerf bereik. In 2011 was dié meting 385,2d/m.

“Die hoeveelheid kweekhuisgasse in die atmosfeer hou aan styg en dit versnel die tempo waarteen klimaatsverandering plaasvind.

Klimaatsverandering sal die toekoms van ons planeet vir honderde en selfs duisende jare bepaal,” het die WMO gesê.

Sedert die begin van die nywerheidsomwenteling in 1750 tot nou, het die gemiddelde konsentrasie CO2 in die atmosfeer met 41% toegeneem, metaan met 160% en stikstofoksied met 20%.

Volgens die GGB bereik net sowat die helfte van die CO2 wat weens menslike aktiwiteit vrygelaat word, die atmosfeer. Die res word deur die biosfeer en die oseane geabsorbeer.

Michael Jarraud, die sekretaris-generaal van die WMO, het gesê die waarnemings wat by die meetstasies gemaak is, beklemtoon net weer hoe menslike aktiwiteit die natuurlike balans van die atmosfeer omvêr gegooi het.

“Hierdie kweekhuisgasse wat in die atmosfeer vasgevang word, drýf klimaatsverandering,” het hy gesê.

“Die mens is besig om met sy eie toekoms en veral met dié van sy kinders en kleinkinders te speel.”

Teen die huidige tempo waarteen klimaatsverandering plaasvind, sal die aarde teen ’n verwagte gemiddelde temperatuurstyging van 4,6 °C oor agt dekades onbewoonbaar wees.

“As gevolg van die verhoogde CO2-vlakke in die atmosfeer kan meer uiterste weersomstandighede in die volgende dekades verwag word, yslae gaan vinniger smelt en seevlakke vinniger styg,” het hy gewaarsku.

Jan Fiskaal sê: hierdie aardverwarming stories het een doel; een van die dae gaan hulle ‘n kopbelasting, loopbelasting, suurstofbelasting en wat alles instel om die mense te melk. Intussen kan hulle ‘n bietjie kyk na die verwoesting wat hulle aanrig met aardbreking (fracking) en al die ander bedrywighede wat die aarde vernietig.

Dit gaan oor belasting en nie ‘n kommer oor die planeet nie.