Agave stroop van die Agave tequilana of die"Blue Agave"

Daar is drie algemene Agave spesies naamlik Agave americana, Agave attenuate en Agave tequilana. Soos u sekerlik kan aflei word die gewilde Tequila drankie van die Agave kaktus gemaak. Agave stroop of nektar word ook van die Agave tequilana gemaak.

Die Agave stroop word in al hoe meer resepte gebruik in die plek van suiker. Dit word ook gebruik in die plek van goue stroop of heuning. Agave stroop het dan ook ’n heuning smaak.

 

Agave nektar of stroop kom oorspronklik uit Mexiko en Suid-Afrika. In Mexiko word die stroop “aguamiel” of “honey water” genoem. Agave is ’n kaktus en floreer in droë vulkaniese grond veral in die suide van Mexiko.

Agave plante se blare is spiesvormig en lank en groen/blou en met skerp punte wat regtig seer kan steek en dit brand waar dit die vel stukkend gesteek het.

Daar is ook verskeie ander kleure Agave plante wat ook groen/blou blare het met roomkleurige strepe aan die kante van die blare.

Dit vertoon baie pragtig in ons tuine en vereis geen sorg behalwe om die dooie loof af te sny. Dis nou hier waar die vingers en arms lelik kan deurloop onder die skerp punte.

Die blare is vlesig soos aalwyne en mens kan mos nou amper nie glo dat ’n soet stroop daarvan gemaak word nie, want aalwyne is mos bitter.

Agave plante se blare word eers na 7 tot 10 jaar afgesny vir die vervaardiging van tequila en stroop. Die sap word van die kroon of stronk of “piña” van die plant verkry. Dit word dan gefiltreer en warm gemaak teen ’n lae temperatuur wat die koolhidrate afbreek na suiker.

Hierdie gefiltreerde stroop is bietjie dunner as heuning en die kleur wissel van lig tot donker, afhangende van die prosessering.

Volgens bronne is die impak van Agave stroop op bloedsuiker dieselfde as fruktose wat ’n laer gliserien inhoud het as tafelsuiker. Dit word aanbeveel dat ons ook nie groot hoeveelhede van hierdie stroop moet gebruik nie omdat dit dan ’n invloed kan hê op die glukose inhoud en suur in ons bloed.

Agave stroop is1,4 tot 1,6 keer soeter as gewone suiker. Vegetariërs kan met vrymoedigheid Agave stroop gebruik in hul diëte.

Ons ken eintlik hierdie plante as vlasplante of sisalplante. Dit vertoon baie mooi indien hulle soos Yucca’s of palms in ’n 3-hoek vorm geplant word. Hierdie plante maak ook in die middel vanuit die kern ’n lang risoom met trossies fyn blommetjies aan weerskante van die stingel gespasieer, van onder tot bo-op die punt.

Onthou egter dat hierdie plante wortels onder die grond maak en so kan hulle nogal goed en vinnig versprei en dit is baie moeilik om hulle weer uit die grond te haal. Goeie raad is om hulle maar af te steek of uit te trek sodra hulle bokant die grond verskyn.

Geniet u tuin en die blommende rose en allerhande blommetjies. Onthou ook om sonbrandmiddel aan die ontblote vel te smeer voordat u in die tuin gaan spit.