Aardskudding by Johannesburg.

Ou mynbedrywighede is waarskynlik die rede vir die aardskudding in en om Johannesburg wat 4 op die Richterskaal gemeet het.

Verskeie geoloë het gister gesê hulle vermoed die groot skudding, in Suid-Afrikaanse konteks, het skokgolwe op die oppervlak veroorsaak nadat een of meer afbouplekke, wat agtergelaat is soos wat myners in die vroeë 1900’s die Johannesburgse goudriwwe gevolg het, ineengestort het.

Dr. Herman van Niekerk van die departement van Geologie aan die Universiteit van Johannesburg wys daarop dat meeste van die myne meer as 100 jaar oud is. Volgens hom is dit dan net ‘n kwessie van tyd voordat dit inmekaar sak en skokgolwe en aardtrillings tot gevolg sal hê.

Volgens Van Niekerk is Johannesburg geleë op die Kaapvaal-kraton, ‘n stabiele stuk aardkors waarop aardbewings weens natuurlike redes, soos die beweging van tektoniese plate, nie meer plaasvind nie

Van Niekerk meen dit is heel moontlik dat die ineenstorting van een van die ou uitgewerkte myne in die Langlaagte-gebied oppervlakte-skokgolwe kon uitstuur wat die meeste mense dan as ’n aardbewing sou beleef. Aangesien dit sy mening is dat dit nie deur natuurlike redes veroorsaak is nie, sal hy dit eerder as ’n aardskudding of aardtrilling beskryf.