Aan Boere-Afrikaners – Strafgerig (2)

Die laaste tyd hoor ek meer en meer dat die Volksgenote mekaar maan en sê dat ons moet bekeer en bid, ja, smeek om genade, want ons volk word uitgemoor.

Dag na dag lees ons, of hoor ons van nog ‘n aanval; nog ‘n boer vermoor, nog ‘n vrou verkrag, nog ‘n oumens of kind gemartel. Ontstellend!

Maar wat moet gebeur voor hierdie verwoestende gang gestaak sal word? Hoor die Here dan nie wanneer ons tot Hom roep nie? Ek vra, want ek weet dat daar wel baie mense is wat daagliks uitroep tot God vir die redding van ons volk. Ons weet dat ons onder strafgerig is.

Hoe dan anders? Ons het die weë van ons voorvaders verlaat en allerhande vreemde gebruike begin aanhang.

Selfs vreemde godsdienste in ons kerke begin verwelkom.

Dink maar net aan hoeveel van ons mense VSA toe is om die sogenaamde “Lakeland Revival” te gaan bywoon en die vreemde vuur van daar af terug te bring.

Dink maar net hoeveel van ons eie volksgenote piekel elke jaar Nigerië toe om daar die hande opgelê te word deur die toordokter, TB Joshua.

Afgode! Van die het ons oorgenoeg.

Vandat ons nie meer op plase woon waar perd gery, geploeg, beeste gemelk en botter gemaak word nie, weet ons ou volkie ook nie meer hoe om hulself te vermaak nie.

Die TV blêr, sis en klets van die more tot die aand in voorhuise, kombuise en slaapkamers.

Die TV is verteenwoordigend van elke liewe afgod onder die son!

En dit het ‘n ereplek in u huis!

Sit die vervlakste ding af, voeter hom met ‘n kolf tot hy naar lyk, dek die tafel vir aandete en vat weer vir ‘n slag Boeke.

"Maar," hoor ek iemand met ‘n vroom gesiggie sê, "ek kyk net ‘God Channel’." "Het u dan nie ‘n Bybel nie?" vra ek.

"Vir wat wil u hê dat iemand anders vir u moet leer uit sy sienswyses en opinies?" Enige ou wat sy bakkies op TV sit en ‘n motiverende praatjie lewer onder die dekmantel van Christenskap, kyk ek skeef en verdag aan.

Hoe blinker die klere’ en die skoene, hoe stinker die ‘gospel’ wat hy preek.

Jesus sê in Matt 11: 28 &; 29 die volgende: "Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

11:29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.” Hy sê ook dat sy Gees ons in alle waarheid sal lei. Hoor u? Alle waarheid.

Niemand anders sal ons ooit in alle waarheid kan lei nie, behalwe Jesus self. Daarom is dit belangrik vir elkeen van ons om self by Hom uit te kom. Die manier wat Hy ons leer is altyd uit die Bybel uit.

Lees u Bybel van voor tot agter deur. Moenie dit lees soos ‘n mens ‘n koerant of tydskrif lees nie, want dan mis jy die storie. Ek het ‘n gesegde wat ek met u wil deel.

"The Bible should be read like a novel – from cover to cover. The Bible should also be read like a love letter – over and over."

Groete.

Sheugnet Jones

(kopiereg: Sheugnet Jones)