Zuma lees te min !

Pres. Jacob Zuma lees nie. So het Richard Calland, politieke ontleder en professor in Publieke Reg, aan die Universiteit van Kaapstad in ‘n toespraak voor die Kaapse persklub gesê.

Hoewel hy gesê het dat dit nie maklik is om met minagting van die president te praat nie, is dit so dat hy nie lees nie.  Volgens hom het die voormalige president, Thabo Mbeki alles gelees, van beleidsdokumente tot kabinetsklousules.

Volgens hom sal die 2014-verkiesing baie interessant wees en hy reken dat Julius Malema se EFF stemme by die ANC sal afneem en reken dat Agang slegs sowat 3% stemme sal trek.

Calland het gesê dis nie dat mnr. Zuma nie kan lees nie, dis net dat hy nie lees nie, en nie die regte goed lees nie. Hy lees nie inligtingstukke van die kabinet nie, asook nie literatuur wat die hart en siel van ‘n moderne, gesofistikeerde regering vorm nie.

Die Presidensie het in ‘n verklaring sy misnoeë uitgespreek teenoor die aantyging dat die President "te min lees."

‘n Kommentator het aan Die Vryburger genoem dat die linkse professor darem werklik baie verwag van ‘n persoon wat oor die leesvermoë van ‘n graad vyf skolier beskik. Sekerlik moes jy darem verder op skool gevorder het as jy nou dik memorandums oor voorgestelde wette en ander memorandums, wat boonop alles in Engels is, nie net moet lees nie, maar effe moet verstaan ook.