Wellington skrik lelik

‘n Bomdreigement het klante in ‘n Wellingtonse gimnasium onthuts. Die gebou is ontruim en inwoners het selfs gery om te kyk wat by Evolve Fitness in Bainstraat gebeur het nadat die polisie ontbied is.

Twee meisies het tydens die ontruiming gestort en het met "nat lywe" uit die gebou gehardloop, het Lynette Emslie, bestuurder van Evolve Fitness, vertel.

Sy het klas gegee toe ‘n instrukteur haar van die dreigement vertel het. Die ontvangsdame het om 18:40 glo ‘n oproep ontvang en iemand het gesê hy gaan ‘n bom by die gimnasium plant.

"Ons het gedink waar gaan hy ‘n bom in Wellington kry," het sy gesê. Sy het die polsie ontbied wat binne minute op die toneel was. Die gebou is afgesper en die honde-eenheid ontbied.

Teen die aand was die ondersoek voltooi en die gebou veilig verklaar.